Gewilde

Waar die Stofpad opsoek na my nuwe “normaal”begin.

Tot die dood ons skei my vrou…nie vandag nie Here asseblief.

Waar begin jy wanneer jou lewe tot stilstand geruk word? Wanneer jou teerpad in ‘n stofpad verander. Myne het by ‘n telefoonoproep na my man se selfoon begin 4uur die oggend. Iemand anders antwoord sy foon – sy vriend – ons was in ‘n ongeluk. Die aarde begin draai om my maar ek bly regop. Here asseblief net nie dit nie…..net nie dit nie Here. Ek sal dit nie oorleef nie Here asseblief Here. Wat het gebeur? Waar is hy? Is hy okay? Waar is julle? Ek gee hom nie kans om te praat nie. Vra te veel vrae.  Kan ek met hom praat? Ek kan nie hulle is besig met hom in die hospitaal….ek hoor die woorde arm..plate…kopbesering…weet nie hoe ernstig…..arm lyk sleg….uitgeval. Ek wil nie meer hoor nie asseblief Here ek wil nie ek kan nie. Dan hoor ek my man….tot die dood ons skei my vrou…..nie vandag nie Here asseblief nie vandag nie. Here wat gaan hy doen as hy sy arm moet verloor….hy gaan nie kan motorfiets ry nie Here…..hoe gaan hy dit hanteer. Hoe gaan ek dit hanteer?

Hierdie blog begin ek om my gevoelens, gedagtes en ervaringe na my man se motorongeluk neer te skryf. Dalk beteken dit vir iemand anders wat deur ‘n soortgelyke ervaring of situasie gaan iets.

Die naam van die blog dra ek aan hom op……motorfietsry was sy lewe. Dit was sy droom om sy eie motorfiets-toebehore/toerusting reeks met die naam “Where tar meets gravel”te begin. Dalk inspireer Stofpadkind iemand anders om hul droom uit te leef of te besef daar is hoop.

2014-10-26 19.45.56

WANNEER EINDIG “DIT”…..?

Jy mag weer asemhaal….

 

IMG-20140913-WA0004

Mens vra jouself baie af – wanneer eindig “dit” dan? Wanneer eindig die hartseer, die pyn en die verlange?

Die eenvoudige antwood is nooit nie……”dit” eindig nooit nie want “dit” is nou deel van jou lewe, deel van jou menswees. Mens leer om saam met “dit” te leef. Jou “nuwe lewe”word om “dit” geweef. Daar is geen voorskrif of medikasie wat “dit” kan wegneem nie.

Die “dit” wat jou elke keer in trane laat uitbars wanneer jy jou storie vertel vervaag en raak beter, die ruk aan jou hart wanneer jy ‘n gunstelling liedjie hoor, ‘n fliek kyk of verby ‘n ongelukstoneel ry gaan nooit weg nie.

Die “dit” wat jou laat glo jy sal nooit weer iemand lief kry nie en dat jy jou hart nooit weer sal oopmaak nie gaan weg, maar die “dit”  wat jou na jou man laat verlang selfs al is jy dalk in ‘n nuwe verhouding gaan nooit weg nie.

Die “dit”wat vir jou sê jy is verslaan en gebroke gaan verby terwyl die “dit” wat jou uiteindelik selfstandigheid, vrymoedigheid, sterkte en veerkragtigheid leer – iets wat jy nooit gedink het jy het nie – daardie “dit”bly by jou vir altyd in jou “nuwe lewe”.

Daardie verskriklike pyn wat jy voel met elke asemteug wat jy neem raak sagter met die tyd. Dit gaan nooit weg nie, maar die rante van die pyn sny nie meer so seer nie.

“Dit”laat jou soms voel jy gaan swig daaronder, dat jy gebuig word deur “dit”, maar dit is nie waar nie, “Dit”bly, maar so ook jy. Dit is en bly jou keuse hoe jy deur jou hartseer gaan kom. Niemand kan dit vir jou dra nie en niemand kan vir jou sê hoe jy dit makliker kan maak nie net jyself kan besluit. Jy besluit of “dit”jou ‘n bitter of ‘n beter persoon maak.

“Dit”leer mens baie dinge :

  • Die lewe is korter as wat mens dink,
  • Dit is die klein dingetjies in die lewe wat saak maak,
  • Waardeer die mense om jou,
  • Leef eenvoudig,
  • Wees lief elke dag,
  • Moenie wag nie,
  • Los die haat en nydigheid,
  • Laat elke asemteug wat jy neem iets beteken,
  • Geniet die lewe elke dag,
  • Jy weet nooit wanneer dit jou laaste dag is nie,
  • Daar is slegs een asemteug tussen lewe en dood,
  • Vergewe makliker,
  • Los spore van omgee agter…….

Baie mense is geneig om te sê jy moet “let go”. Nou wil ek vandag vir diegene vra wat hierdie woorde so maklik kan gebruik vra……moes jy al “let go”? Moes jy al “let go”van dit wat jou alles was in jou lewe? Moes jy al “let go”van jou lewe? Dit is nodig ja maar ongelukkig nie so maklik soos wat jul dink of dit laat klink nie.

Vir die wat dalk hier lees wat moet “let go”wil ek sê, wees geduldig met jouself. Meet jou aan niemand nie. Werk deur alles op jou eie tyd. Daar sal ‘n dag kom wanneer jy agterkom jy haal makliker asem, jy sien weer die mooi in die lewe raak en saam met dit sal jy laat gaan.

Weet ook dat “let go”beteken nie vergeet nie. Allermins – dit beteken jy aanvaar wat met jou gebeur het, jy staar die waarheid in die oë. “Letting go” gee jou krag om weer asem te haal.

Jy mag weer asemhaal………….

 

AS JY NOG NIE DAAR WAS NIE SAL JY NIE WEET NIE…….

Jy ken my naam, nie my storie nie..

2017-07-05 21.50.20Om te oordeel kom so maklik…..baie makliker as om te probeer verstaan.

Dit was een ding wat jy nooit gedoen het nie. Jy het niemand geoordeel nie maak nie saak wat daardie persoon al in hul lewe gedoen of deurgemaak het nie. Jy het almal dieselfde behandel. Nog iets wat ek by jou geleer het. Wens ek kon dit ook elke dag so goed regkry soos jy.

Jy het altyd gesê ons weet nie wat in ander mense se lewens aangaan nie. Daarom sou jy jou laaste R100.00 noot in jou beursie gee vir die oom wat by jou kom vra vir iets om te eet. Jy sou uit jou pad gaan om ander te help ten koste van jouself. Daaroor het ons baie geveg want mense het jou goedheid misbruik. Jy sou eerder ja as nee sê.

Ons kon nog so baie by jou leer……….

 

Hoeveel anders sou die wêreld nie wees as ons in plaas daarvan om te oordeel mekaar help nie. Moeite doen om iemand se ware lewensverhaal te hoor in plaas daarvan om hom of haar te oordeel.

Mense kan so maklik ‘n “label”aan iemand toeken omdat hulle dink hulle weet maar eintlik weet hulle niks. Vir diegene wil ek die volgende sê (namens almal wat “gelabel” word) ……..

JY KEN MY NAAM, NIE MY STORIE NIE

Dink bietjie daaroor wanneer jy weer oordeel. Wonder bietjie wat is sy of haar storie en doen moeite om uit te vind. Nie omdat jy nuuskierig is nie maar omdat jy werklik belangstel en omgee.

Was jy al ooit in jou lewe sonder ‘n sent op jou? As jy was sal jy verstaan as jou vriendin by jou verjaardag opdaag sonder ‘n geskenk want as jy al daar was sou jy weet vriendskap beteken meer as enige geskenk in die wêreld.

Was jy al siek van bekommernis in jou lewe? As jy was sal jy verstaan dat mense nie altyd vriendelik is nie want as jy al daar was weet jy dat jy so vasgevang word in jou bekommernisse dat jy niemand om jou werklik raaksien nie.

Was jy al ooit siek en kon nie gaan werk nie? As jy was sal jy verstaan wanneer jou huishulp siek is en nie kan kom werk nie want as jy al daar was weet jy hoe dit voel om met ‘n siek liggaam jouself voort te sleep.

Was jy al alleen en eensaam in jou lewe? Werklik alleen en eensaam? As jy al was sal jy verstaan as die ou oom of tannie net nog ‘n bietjie langer met jou wil gesels want as jy al daar was sou jy weet wat dit beteken om net vir ‘n kort rukkie nie alleen te wees nie.

Moes jy al jou geliefde aan die dood afstaan? As jy moes sou jy verstaan dat iemand se menswees verander want as jy al daar was sou jy weet hoeveel dit beteken dat jy hul geliefdes saam met hulle onthou.

Het jy al alles in jou lewe verloor? As jy het sal jy verstaan dat waar jy bly, wat jy ry en hoe jy aantrek nie jou as mens definieer nie. As jy al daar was sal jy weet dit is alles aardse dinge wat vir mense saak maak wat nog nie jou pad gestap het nie. Jy sal weet om gelukkig te wees en saam met jou geliefdes te wees die heel grootste geskenk is wat mens voor kan vra. Jy sal weet geluk, liefde en vrede in jou hart gee jou meer as waarvoor jy kan hoop.

As jy nog nie daar was nie sal jy nie verstaan nie………….

Leer om die mooi te sien

 

 

STOFPADMENSE

LIEFDE…..TYD…..DOOD

2014-10-26 19.45.56

Stofpad…..nie almal hou van ‘n stofpad nie. Jors was mal daaroor om op stofpaaie te gaan ry met sy motorfiets. Ongelukkig moet elkeen van ons op ‘n stadium in ons lewe ‘n stofpad van die een of ander aard stap. Sommige stap meer as een stofpad en ander wat gelukkiger is dalk net een of twee keer. Elkeen se stofpad is egter anders net soos elkeen se seer uniek is. Niemand hanteer dinge dieselfde nie.

Tog is daar baie dinge wat ek die afgelope tyd op my stofpad geleer en gesien het. Stofpaaie ken ek goed ek het hulle al meer as een of twee keer in my lewe gestap, hierdie laaste een was en is egter die heel moeilikste en langste van almal.

Stofpadmense is uniek – elkeen op sy of haar eie. Mense oordeel stofpadmense maklik, maar dit is uit onkunde en die wat oordeel kan maar weet ons stofpadmense neem julle nie kwalik nie. Die rede……julle weet nie!! As jy nog nie self ‘n stofpad gestap het nie weet jy nie hoe dit op daardie pad is nie. Net soos jy met jou voertuig of motorfiets op ‘n stofpad afraai en nie weet hoe die pad vorentoe lyk nie, net so weet jy nog nie van die seer, die alleen, die eensaamheid, die desperaatheid, die verlange en alles oorheersende hartseer wat ‘n stofpadmens beleef nie.

In plaas daarvan om ‘n stofpadmens na jou werklikheid te probeer oorhaal, probeer ‘n slag om jou op daardie persoon se stopfpad te plaas. Probeer om jou hul werklikheid voor te stel en praat bietjie saam met hulle oor hul stopfad in plaas daarvan om hul die heeltyd te probeer dwing na ‘n teerpad – jou teerpad. Wanneer ons oor ons stofpad praat is dit nie om simpatie van ander te kry nie, maar dit is ons manier om dit te hanteer. Dit beteken ook nie ons steek vas in die verlede nie. Die verlede was egter ons lewe tot nou, dus sal ons dit nooit ooit vergeet nie. Dit is ook reg so want dit is, was en sal altyd deel van ons wees.

Werk sag met stofpadmense, luister mooi na hulle. Hulle mag jou dalk ‘n paar dinge laat besef wat jou kan help om jou huidge teerpad nog mooier te maak. Om jou toekomstige herinnerige – wat nou jou lewe is – nog meer onvergeetbaar te maak. Aan die einde van die dag is dit al wat oorbly….herinneringe. Alles kom tot ‘n einde, ‘n stofpad ook.

Stofpadmense en Teerpadmense het tog wel dinge ingemeen……… Liefde, Tyd en Dood. Dit is almal se realiteit, net op verskillende manier en tye.

Ons almal wil lief gehê word, ons almal wens vir meer tyd en die dood…..ons almal vrees die dood. Ons vrees dit nie noodwendig omdat ons bang is om dood te gaan nie, maar vir die onbekendheid daarvan, vir die seer wat die bring en ook die finaliteit daarvan.

Wanneer jy weer ‘n stofpadmens raakloop….onthou die drie dinge….LIEFDE, TYD EN DOOD.

IMG-20151228-WA0026

My Stofpad Brief

Dat jy altyd my baken op die heuwel sal wees met jou helder lig.

Lambertsbaai 2

Vandag skryf ek vir jou ‘n Nuwejaarsbrief……..

Die mensdom het, hartseer genoeg, nog niks verander sedert jy weg is nie. Met Kersfees word kos en geskenke nogsteeds bo-aan die lysies geplaas in plaas van die werklike rede vir Kersfees en familie. Families baklei nogsteeds oor nietighede en kinders EN grootmense is nogsteeds ongelukkig oor hul “stupid”geskenke wat die gewer maar kon gehou het. Ongeag met hoeveel liefde dit uitgesoek, gekoop en gegee is.

Oumense wag nogsteeds in ouetehuise met hoop in hul harte dat hul kinders tog die Kersfees en Nuwe Jaar nie van hulle sal vergeet nie, maar hul wonderbaarlik sal onthou.

Kostrollies word nogsteeds tot oorlopens toe oorlaai ten spyte van duisende wat daagliks nie ‘n kriesel kos het om te eet nie.

Kersdag en Nuwe Jaar se spyskaarte en partytjies word nogsteeds beplan ten spyte daarvan dat almal kla hoe broekskeur dit nou eintlik gaan.

Met Nuwe Jaar vloei die drankies nogsteeds vrylik, almal kla nogsteeds oor klappers en vuurwerke wat die diere gaan ontstel en almal stuur nogsteeds vele Nuwejaarswense wat hul nie regtig bedoel nie, maar hul moet tog net hul “plig” nakom. Daar mag tog nie gesê word hul het nie eers gesê Voorspoedige Nuwe Jaar nie – of hul dit nou bedoel of nie.

Ja alles wat jy verpes het is nogsteeds dieselfde!

Dan dink ek terug aan ons laaste Oujaarsdagaand saam. Min het ons geweet toe ons daar alleen op ons dek staan en na die klappers luister en die laterns wat opgestuur word kyk dat dit ons laaste een sal wees. Die laaste keer wat ek saam met jou ‘n Nuwe Jaar sou ingaan. Ons verwagtinge was groot vir 2016 en ons het geglo dit sou ons beste jaar ooit wees. Jou droom was om Malawi Meer toe te gaan. Wat ‘n ontnugtering……meer vir my as vir jou dink ek. Jy het die rus vir jou siel gekry waarna jy altyd gesoek het.

Nou gaan ek reeds die tweede Nuwe Jaar in sonder jou. Nogsteeds voel dit onwerklik en ek glo dit sal altyd so voel.

Ek was vir die eerste keer alleen Lambertsbaai toe. Oral waar ons was was ek alleen en ek wil hê jy moet weet dit was “okay”. Ek is “okay”. So glo ek. Om herinneringe te hê om aan vas te hou maak dat ‘n stukkie van jou altyd by my sal wees. Op die pad tussen Lambertsbaai en Clanwilliam het ek ons sien ry op die motorfiets. Oral waar ons langs die pad gestop het het ek ons sien staan en jou jou sigaretjie sien rook. By Isabella’s het ek ons sien sit en op die kaai het ek ons sien stap. By die hotel het ek jou by die kroeg sien sit met jou Jack Daniels, by die swembad het ek jou op die stoel sien lê en met ontbyt jou sien smul aan die lekker kos.

Lambertsbaai is leeg sonder jou, maar vol van ons kosbare herinneringe.

My wens vir 2018 is dat dit vol hoop sal wees. Dat die son weer sal opkom en vrede in ons harte sal bring. Dat ek sal opkyk en jy altyd my baken op die heuwel sal wees met jou helder lig.
Wanneer ons struikel ons weer op sal staan. Wanneer ons moeg raak ons mekaar sal dra. Dat ons sal weet, maak nie saak wat nie ons is goed genoeg.

Happy New Year my man!

Liefde vir altyd.

M

 

FEESTYD OP DIE STOFPAD

Maak hierdie Kerstyd ‘n avontuur om te onthou vir ewig….

20151225_112402.jpg

Dit is weer tyd vir families om bymekaar te kom, vir kwaad wees agterlaat vir ‘n rukkie – want volgende jaar doen ons mos maar wees alles van vooraf – vir son, see, lag, gesels en omgee.

Vir sommige is dit werklik ‘n feestyd en vir ander mense kan hierdie “silly season”net nie gou genoeg einde kry nie. Hoekom kan ons nie die hele jaar so vol omgee wees en in vrede saamleef nie? Wat maak hierdie tyd van die jaar so spesiaal?

Dit is alles goed waaroor ek en jy altyd die tyd van die jaar gesels het. Ons het verkies om eerder op ons eie iewers heen te gaan na daar waar jy kan asemhaal en mense nog plat op die aarde lewe. Daar waar wie jy is, waarmee jy ry en waar jy bly nie saak maak nie…..hoe jammer tog dat mense dink dit is wat jou as mens definieer.

‘n Jaar gelede wou ek net alleen wees op Oukersdag en Kersdag en snaaks genoeg kon niemand dit verstaan nie. Maar ek weet jy sou want dit is hoe ons Kersfees “gevier”het. Eenkant op ons eie besig met ons eie dinge. Daarvoor sê ek dankie, want dit het dinge vir my makliker gemaak. Wanneer ek dit sê kan ek nie help om te lag wanneer ek aan ons laaste “Kersete”saam dink nie.

Soos gewoonlik het ons die motorfiets gepak (of altans jy het ) en ons het die pad Weskus toe gevat. Oukersaand het ons in Montagu Karavaanpark oorgebly. Kersoggend het ons die braaivleis wat oorgebly het van die vorige aand ingepak vir padkos. Jy het by die kafee gestop en met water en ‘n blikkie “bully-beef”in jou hande uitgekom. Ons het gery tot bo in die Keisievallei waar ons gestop het met ‘n beautiful uitsig oor die vallei.  Dit was toe reeds tyd vir middagete……ons Kersete was oorskiet braaivleis van die vorige aand en “bully-beef”uit die blikkie. Ons het gelag en gesê dit is iets wat ons altyd sal onthou. Min het ons geweet dit sou ons laaste Kersete wees…….

Ek wonder hoe my herinneringe aan daardie dag sou wees as ons ‘n Kersete by ‘n restaurant of hotel gehad het. Eintlik het ek nie nodig om te wonder nie want ek weet dit sou nie so spesiaal en kosbaar gewees het nie. Dit sou net nog ‘n ete gewees het.  Wie kan nog sê hul Kersete was oorskiet braaivleis en “bully-beef”uit ‘n blikkie in die Keisevallei terwyl daar doodse stilte om jou heers? Glo nie baie mense nie.

Ons het op die motorfiets gespring en verder gery…..ompad tot in Ceres (want jy het weer jou eie kop gevolg en nie die GPS nie). Warm is ‘n “under-statement”….dit was kokend warm en ons wou eintlik net by die koelte van die Weskus uitkom. Moedernatuur het egter geroep en jy moes vir my stop in Ceres om ‘n draaitjie te loop……wat toe ‘n draai geword het.

Die petroljoggie het gesê “Mevrou moet mooi kyk die slot van die deur is nie lekker nie”, maar mevrou (nes meneer) het ook maar ‘n manier om haar eie kop die volg. Met die ingaan by die toilette sien ek aan die oorkant van die pad is karakters wat ek nou nie graag saam met my daar binne sou wou hê nie en ek sluit die deur. Nou-ja toe ek wil oopsluit kom ek agter die slot van die deur is toe nie “lekker”nie. Ek kry nie die deur oopgesluit nie. Dit is kokend warem daarbinne en my ryklere maak dit nog warmer en dit voel of ek gaan flou word van “panic” en die hitte. Skree by die venster uit gaan nie help nie want dan gaan net die ongewenste karakters my hoor…..die toilette was in die systraat van die vulstasie.

Dan maar my man bel. Sonder sukses want jou foon is op “silent”……mooi man dink ek.  Daar is ‘n binnedeur en ek probeer hom sommer afskop maar nee-wat ek is te lig in die broek. Natuurlik skel ek jou want hoekom sit jy jou foon op “silent”. Na amper ‘n halfuur kom jy agter jou vrou is darem nou bietjie lank weg en jy kom soek my……ek kon nie glo dit vat jou so lank om agter te kom ek kom nie uit nie. Nodeloos om te sê jy lag jou lekker “uit die maag uit”lag vir my – vir kilometers verder kon jy nie ophou lag nie.  Wat anders kon ek doen as om saam te lag………min het ons geweet dit sou ook vir my later ‘n ewigheidsoomblik word wat ek altyd sal onthou.

Hoekom vertel ek hierdie dinge? Om te wys dat duur geskenke en duur etes nie is wat Kersfees maak nie. Dit is saam met wie jy is en wat julle saam doen, wat jul saam laat lag wat saak maak. Niemand van ons weet wanneer is dit ons laaste Kersfees saam nie. Spandeer dit saam met jou geliefdes eerder as in die winkels. Koester elke oomblik saam en geniet die saamwees. Geniet om te lewe en geniet die lewe self. Dit is waarvoor God dit vir ons gegee het.

Leef en moenie net bestaan nie. Leef jou lewe en moenie doen wat die wêreld doen of van jou verwag nie.

Maak hierdie Kerstyd ‘n avontuur om te onthou vir ewig…….

Dankie vir al die mooi herinneringe.

Dit wat was sal nooit weer wees nie….

Jors 1

 

Wanneer die dood so skielik aan jou deur kom klop verloor jy soms heeltemal tyd en tred met wat om jou aan die gebeur is. Elke dag is net nog ‘n dag …… nog ‘n dag wat jy moet opstaan en die wêreld in die oë kyk. Jy wil nie maar jy weet jy moet, want die wêreld gaan staan nie stil soos jou wêreld gedoen het nie. Dit is een van die moeilikste dinge om mee saam te leef aan die begin. Jy wil dit uitskree dat almal tog net sal stilstaan want jou man is dood….weet hulle dit dan nie. Hoe kan almal aangaan met hul daaglikse lewe terwyl joune uitmekaar val. Alledaagse dinge irreteer jou tot in jou siel. Hoe kan mense oor sulke onbenullighede praat, stry en baklei.

Dit raak so erg dat daar tye is wat ek net nie ‘n wag voor my mond kon sit nie. Soos die man wat by die tuisnywerheid so geirreteerd raak met sy vrou wat nie kan besluit wat hy moet koop nie. Wanneer hy dan die telefoon dooddruk stap ek na hom toe en vra vir hom of hy weet hoe gelukkig hy eintlik nog is…..hy kyk verbaas na my en vra hoekom? Omdat jy nog ‘n vrou het vir wie jy iets by die tuisnywerheid kan gaan koop meneer, ek sal wat wil gee dat my man my bel en vra om iets vir hom te koop……(selfs die pakkie sigarette waarvoor ek menigmale spesiaal moes stop en wat my so irreteer het). Al wat die man kon uitkry na ‘n lang ruk is ……. dankie.

 

Met elke klein dingetjie wat gebeur dink jy hoe anders kon jou lewe nie gewees het as dit net nie gebeur het nie. Sommige dae voel dit asof jy nie meer omgee nie……oor niks nie, nie eers jouself nie want niks maak meer saak of sin nie.

Jy word vasgevang in ‘n groef en dit is asof jy bly vashaak in die verlede. Niks wat enige iemand vir jou sê wil jy hoor nie, al weet jy hulle bedoel dit ten goede. Jy wil net niks hoor nie. Dit is my seer en myne alleen. Niemand of niks kan dit beter maak nie. Jy wil ook nie met iemand gaan praat soos almal aanbeveel nie, want hoekom moet ek alles vir ‘n vreemdeling gaan vertel? Hoekom moet ek sit en derms uitreig by iemand wat nie regtig ‘n idee het hoe ek voel nie? Iemand wat nog nie in my skoene gestap het nie kan my nie raad gee nie en dit is asof ek ook nie na enige iemand wil luister nie…al weet ek dalk diep binne my hulle mag dalk net reg wees.

Dan op ‘n dag is daar iemand wat wel in jou voetspore geloop het, dalk nog dieper getrap het as jyself en jy word “geforseer”om te luister, want jy weet die persoon praat nie net nie die persoon verstaan want hy of sy was daar waar jy nou is. Jy besef dan daar is tog hoop want jy kan sien die seer het beter geraak. Ek voel vir die eerste keer iemand verstaan regtig hoe ek voel en wat ek deurmaak. Dinge waaroor ek getwyfel het in myself verstaan ek beter. Ek kan praat sonder om myself te verduidelik of om bevraagteken te word……iemand verstaan werklik.

Die mees hartseerste ding om mee vrede te maak is om te besef dat wat was nooit weer sal wees nie. Dit is vir altyd verby…..

Die liedjie hieronder is die ding wat my die heel diepste geraak het na Jors se ongeluk….ja dit is nogsteeds moeilik vir my om die woord dood te sê. Dit is hartseermooi en die harverkeurende waarheid…….

Die woorde het my diep geraak en my uitkyk verander……..dankie x

Na al die donker wolke is daar weer vir my lig. Ek besef die lewe gaan aan of mens dit wil weet of nie. Soos wat my hart geleidelik ligter raak sien ek ook my vriendinne en familie se vreugde raak…..hul vreugde omdat ek uiteindelik besef ek kan nie in die verlede bly vassteek nie.

Die seer glo ek sal nooit weggaan nie, maar dit raak ligter. Vir altyd sal dit deel wees van my lewe. Baie dae wanneer ek na jou foto’s kyk kan ek dit nogsteeds nie glo nie, dan voel dit asof jy net iewers is en weer gaan terugkom. Dit is dan nogsteeds ondenkbaar om te dink ons sal jou nooit weer sien nie.

Jy sal altyd deel van my wees, dit is hoe dit hoort. Dit is ons storie en sal altyd wees niks kan dit verander of wegneem nie……

 

Jors Stofpad 1

Wanneer jy groet op die Stofpad.

Tot ons weer ontmoet….

Om te groet is nooit maklik nie. Om vir altyd te groet is nog moeiliker.

Op 6 Augustus 2016 het ons jou vir altyd gegroet. Vir ons was dit die einde van jou pad hier saam met ons, vir jou die begin van jou ewige lewe. Ons was hartseer en verslae, die Engele het gejubel en feesgevier.

Hoe groet mens iemand wat vir so lank deel was van jou lewe? Hoe sê mens totsiens vir die lewe wat jy geken het. Dit wat was sal nooit weer wees nie. Dit is die moeilikste om te aanvaar en vrede mee te maak.

Jou kerkdiens was besonders. Die dominee het uit jou bybel gepreek waarin jyself aantekeninge gemaak het. Dit was asof jyself met ons gepraat het. Jy het geskryf  jou Geestelike Verjaardag is op 10 Julie. Wie van ons het werklik ‘n Geestelike Verjaardag. Al jou bekommernisse, vrese en foute het jy neergelê voor Hom.

Soos die dominee gesê het ons almal leef die “dash”tussen jou geboortedatum en sterftedatum. Dit is jou tyd hier op aarde. Hoe lank jou eie “dash”is sal ons nooit weet nie. Ook is dit nie belangrik nie. Om die “dash”reg te leef dit is wat belangrik is.

Ek het self die bedankings by die diens gedoen……nie omdat ek “sterk”is nie, maar omdat ek dit as ‘n manier gesien het om myself te laat besef dit is ‘n werklikheid.  Vir jou het ek die volgende gesê:

Aan my “Wild-at-Heart”man. Dankie vir die mens wat jy was. Dankie vir alles wat ek by jou geleer het. Om almal met respek en liefde te behandel was een. Dankie dat jy my gewys het hoe om te leef. Jy los my met die kosbaarste herinneringe ooit. Dankie vir 13jr van saamwees deur dik en dun.

31 Julie 2016 sal in my geheue gegraveer wees as die dag wat jou woorde “tot die dood ons skei my vrou” waar geword het.

Dit was te gou en my hart is stukkend en ek wil jou nie laat gaan nie, maar ek weet ek moet. Ek ken jou vandat ons 14 was. Jy was my eerste liefde en die liefde van my lewe. Vandag breek ‘n stuk van my hart maar ek stuur dit saam met jou. Vandag gaan daar van my menswees dood, die wat jy elke dag lewendig kon hou. Vandag verloor ek ‘n tyd van my lewe waaraan jy elke dag deel kon hê, waar ons soveel gehad het om vir mekaar te sê. Vandag stol ‘n traan op my wang as ‘n teken van ons tye saam en my geheue is gevlek met jou naam.  Ek sal jou gaan soek in die Karoo en op die grondpaaie sal ek jou vind. Vir altyd sal jy nou veilig op die highways ry. Lief jou vir jou altyd.

Tot ons weer ontmoet……..

 

 

365 Dae op die Stofpad

Niks hier op aarde is van belang of blywend nie…

602824_533631920052123_135693611_n

Ek het nie gedink ek gaan dit maak nie, maar ek het. Op die een of ander manier het ek 365 sonder jou oorleef. Dit was nie maklik nie, maar ek het dit gemaak en ek weet jy sou trots wees. Trots wees omdat ek deur al die hartseer en pyn nogsteeds staande kon bly, dit het ek by jou geleer.

31 Julie 2016 was die seerste, swaarste, hardste, ondenkbaarste dag van my lewe. Terwyl ek daar op die vloer in die hospitaal gesit en wag het het ek nie geweet wat om te dink en wat om te doen nie. Ek het geweet dinge lyk nie goed, maar met die dokters wat verby my gehardloop het het ek bly glo. Solank daar lewe is daar hoop.

Toe ewe skielik is daar nie meer lewe nie en saam met dit het my hoop verdwyn. My lewe is tot stilstand geruk. Wat het hierdie afgelope jaar my geleer?

Dat pyn allesoorheersend in jou lewe kan wees. Dat pyn, skok en hartseer jou verlam. Dit laat jou doelloos en sonder rede ronddwaal. Dit het my geleer mens kan sonder emosie binne jou, funksioneer…..soos ‘n outomaat.

Dit het my geleer om nie uit te stel nie, om nie te sê môre is nog ‘n dag nie. Dit het my geleer tyd is kosbaar. Dit het my geleer om almal om my te waardeer elke dag. Dit het my geleer niks hier op aarde is van belang of blywend nie…..absoluut niks nie. Die enigste ding van belang is die liefde in jou hart, want dit is al wat jy saam met jou neem. Die liefde wat jy in jou hart saamdra.

Dit het my geleer môre is nie ‘n gegewe nie. Dit het my geleer alles verander binne sekondes. Alles waarop jy hoop, waaroor jy droom, waarvoor jy bestaan verdwyn soos mis voor die son. Al jou drome verdwyn en maak plek vir al die gisters…..want vir nou is gister, eergister en die dag daarvoor die belangrikste dae want jy was nog daar. Gister en eergister kon ek met jou praat en jy het terug geantwoord, nou praat ek nogsteeds met jou, maar altyd sonder ‘n antwoord.

Dit het my geleer dat mense omgee, dat mense se lewens ook tot stilstand geruk word deur iets wat so skielik en sonder waarskuwing gebeur. Die verskil is net, mense staan net vir ‘n rukkie stil by die een wat uitmekaarval, dan gaan hul lewens weer aan – dit is hoe die lewe is. Dit het my geleer mense oordeel soms sonder om te dink. Mense leef so in die wêreld dat hul verby almal om hul se seer kyk. Dit het my geleer dat wat mense dink en sê nie saak maak nie. Vir die eerste keer in my lewe kan ek sê ek “worry nie wat mense sê nie”en dit bedoel. Dit het my geleer al wat saakmaak in die lewe is God. Net Hy kan vertroosting bring, net Hy kan jou optel en vashou wanneer jy nie meer kan nie. Sonder Hom is ons niks.

Dit het my geleer dat iets so tragies mense help om weer rigting in hul lewens te kry. Dit laat mense besef dat die paadjie waarop hulle is, is dalk nie die regte een nie. Dit laat groot mans soos seuntjies huil. Dit het my geleer die klein dingetjies in die lewe is die belangrikste dinge. Die saamwees elke aand om die kospotte en langs die etenstafel beteken baie meer as die nuwe TV Game of daardie nuwe rok. Dit het my geleer dat daar ‘n rede was hoekom jy my elke oggend totsiens gesoen het, want wanneer daar nie nog ‘n totsiens soen is nie, smag jy daarna.

Dit het my geleer dat mens meer geduld met almal om jou moet hê. Dit het my geleer die vuil skottelgoed en vol wasgoedmandjie is nie belangriker as die koffie saam met jou op die bank nie. Dit het my geleer die onopgemaakte bed is nie belangriker as ons geselsies in die badkamer voor die spieëls nie. Dit het my geleer die vuil kombuisblad nadat jy in die nag vir jou ‘n peanut en stroop broodjie gemaak het is baie beter as ‘n skoon kombuisblad elke oggend sonder jou.

Dit het my geleer dat alle verhoudings uit soet, suur en sout bestaan, maar dat die goed so goed moet wees dat dit die suur en sout heeltemal oorskadu. Dat ons hier is om God se Wil uit te leef en daarmee saam om mekaar gelukkig te maak. Dankie dat ons goed so goed was dat die res nie saak maak nie.

Dit het my geleer dat jy wel my hele lewe was en dat die lewe sonder jou sy kleur verloor het. Jy het my dag opgehelder en die glimlag op my gesig gesit met al jou sêgoed.

Ek weet nie hoeveel 365 dae nog oor is voor ek jou weer sal sien nie, maar ek weet dit sal die blyste dag van my lewe wees. Tot dan bly jy in my hart, bly jy in my gedagtes vir altyd.

As jy die kans kry om af te kyk na my hoop ek jy kan sien hoe baie ek jou mis, maar ook dat ek die lewe vir ons altwee leef.

Soos die dae verby gaan verander niks nie, ek mis jou en alles van jou nogsteeds. Sommige dae mis ek jou so baie dat ek nie weet hoe om deur die dag te kom nie, maar dan dink ek aan iets wat jy gedoen of gesê het en dit laat my smile deur die trane. Jy het my lewe verander en ek sal nooit ophou om jou te mis nie.

Liefde vir altyd M……

 

Wanneer die Stofpad donkerder word.

My lewe, my liefde my alles….

My man is oorgeplaas na ICU en ons wag dat die personeel bevestig ons kan deurgaan na die waakeenheid. Al waaraan ek kan dink is dat hy hospitale haat en nou is hy in ICU van alle plekke…..ek wil liewer nie weet wat hy gaan sê wanneer hy bykom nie………hy gaan mos bykom, sommer gou ook. Daar is nog baie wat hy moet, wil en kan doen.

Uiteindelik kom roep hulle ons. Ons stap in die lang donker gange af….eers dan besef ek dit is alreeds nag en nie meer middag of aand nie. Voor die deur moet ons eers ons hande ontsmet en slegs een persoon op ‘n keer mag ingaan en slegs familie. Ek ontsmet my hande en stap deur die deure in….alleen. Dit breek my hart om hom daar te sien lê met al die masjiene en pypies. Dit kan mos nie my man wees wat so lekker kan lag en altyd net die mooi in ander sien wat so daar lê nie…..dit KAN NIE.

Weereens besef ek dat ek sal moet sterk wees vir hom om hom hierdeur te help, want hy GAAN mos hierdeur kom. Ek staan langs sy bed en voel vir die eerste keer in my lewe regtig verlore. Verlore omdat ek nie weet hoe om die situasie te hanteer nie, want eintlik wil ek net weghardloop ek wil hom nie so sien nie. Nooit het ek gedink dit sal oor my pad kom nie. Weer buk ek by hom om by sy oor met hom te praat, die reuk van die ontsmettingsmiddel waarmee hul sy gesig gewas het sal vir altyd by my bly. Hy het so daarna uitgesien om terug by die huis te wees – eers heelwat later sou ek uitvind hy wou hê hul moes hom eers huistoe bring met die ambulans voordat hy hospitaal toe gaan. Geen mens weet hoeveel hartseer, skok en absolute verwoesting jou hart kan hanteer nie.

Die res van die familie moet ook seker kans kry om in te kom……in alle eerlikheid wil ek nie uitgaan nie want ek wil hom nie “alleen”daar los nie. Nadat almal ‘n beurt gehad het om in te gaan gaan sit ek weer by hom. Ek praat met hom hou sy hand en sy been vas sodat hy weet ek is daar die heeltyd. Hy raak rustiger. Die suster aan diens sê hulle gaan hom nou gemakliker maak en daarmee saam sy medikasie nagaan en omruil. Ek sê vir hulle ek het sy sak met klere en eie beddegoed in my kar, maar hulle sê ek moet dit eers hou DALK kan ons dit die volgende oggend gebruik. Hul vra dat ek asseblief eerder moet huistoe gaan …… nee-nee-NEEEE ek kan nie ek kan hom nie alleen daar los nie. Na ‘n lang gesoebat, preek en ‘n belofte dat hulle my DADELIK sal kontak as iets nie reg is nie loop ek uit en die ICU deure gaan toe agter my……..hoe vreem het dit nie gevoel nie. Daar staan ek weer alleen in die lang gang nog meer onseker en verward as ooit in my lewe.

Ek ry huistoe, maar kan nie sien waar ek ry nie en moet eers stop langs die pad om my emosies onder beheer te kry. Iemand ry agter my aan om seker te maak ek is okay. By die huis lyk die huis vir die eerste keer vir my groot, donker, leeg en onheilspellend…..ons veilige hawe verander in ‘n donker, onheilspellende kasarm.

Dan hoor ek Smirnoff…..ek het heeltemal van ons hond vergeet…eerste keer in sy 8jarige lewe wat dit gebeur. Kon dit nie glo nie, maar later sou ek uitvind skok en trauma laat mens vreemde dinge doen en ook nie doen nie.

Ek gee hom kos, stort, trek skoon klere aan en begin BID EN BID EN BID. Daar word gesê mens mag nie met God “bargain”nie, maar dit is mos nie wat ek doen nie. Ek smeek hom net om Jors se lewe te red, want ek weet dit is net Hy wat dit kan doen. Hoe lank ek daar langs ons bed op my kniee was weet ek nie. Alles, Hy kan alles vat van my solank Hy net asseblief Jors se lewe sal spaar . Enige iets sal ek doen niks sal vir my te veel gevra wees om te doen. Ek smeek, belowe, vra en redeneer met God.

Ek besluit om die hospitaal te bel, want slaap kan ek verseker nie. Dit is drie uur die oggend. Hallo Mevrou, ja ons was nou-net van plan om mevrou te skakel…..my hart voel asof hy gaan staan. Vandat mevrou weg is is hy baie onrustig sal mevrou asseblief maar hospitaal toe kom en dalk ook die res van die familie. Nee-nee-nee……NEEEEEEEE.

My oom en tannie kom haal my want ek sien nie kans om self te ry tot daar nie. By die hospitaal is dit weer hande ontsmet voor ek mag ingaan. Sjoe mevrou hy het ons laat rondhardloop. Hy wil nie saam met die masjien asemhaal nie en baklei daarteen. Hoekom is ek nie verbaas nie……dit klink presies soos hy. Sy bloeddruk is bitter laag en dit maak dat sy organe swaar kry. Ek gaan sit langs sy bed en vryf oor sy arm en been sodat hy kan voel ek is daar. Hy raak rustiger, maar sy “vitals” raak nie beter nie.

Hoe magteloos is mens as jy daar sit en sien hoe sy bloeddruk bly val, as jy vra is daar niks wat hulle vir hom kan gee nie. Dan vir die eerste keer in my lewe hardloop ek weg wanneer die alarms van die masjiene begin skree. Ek hardloop in die lang gang af tot by die trappe en daar gaan sit ek. Dit kan nie besig wees om te gebeur nie dit kan nie. Dit is nou reeds vroegoggend. Kent kom soek my en kom sit by my op die trappe met sy arms om my. Ek is veronderstel om sterk te wees maar ek is nie Here ek is eintlik so swak. Elke keer wat iemand om die draai kom wil ek verder weghardloop want ek wil nie hoor wat hulle sê nie ek WIL NIE.

Hulle kom roep ons en sê hy is gestabiliseer ons kan weer ingaan. Nou mag ons twee by hom wees. Ek sit die heeltyd by hom die res maak beurt om in te kom. Ons dominee is daar en ek gaan uit om met hom te gesels. Die dokter kom praat met ons. Wat hy sê WIL EK NIE HOOR NIE. Ek kyk hom in die oë en sê dokter daar GAAN vandag ‘n wonderwerk in hierdie hospitaal gebeur ek gee nie om wat jy sê nie. Die dokter bly net stil sê sterkte vir almal, draai om en stap weg.

Ek bly langs sy bed, elke keer wat die alarms afgaan loop ek uit en af met die gang. My vriendin laat weet sy het iemand spesiaal gekry om vir hom te kom bid, hy kom van Mosselbaai af. Sy bloeddruk bly val die suster sê hy moet urineer sodat sy niere kan werk. Ek vra vir my vriendin wanneer kom die persoon wat kom bid want hy het dit nou NODIG. Toe ek omdraai staan die man in die deur.

Hy kom in. Bid vir hom, salf hom en ons bid saam. Ek glo en vertrou nou gaan alles omkeer, nou gaan die wonderwerk begin gebeur. Gaan sit langs hom – die heeltyd praat ek met hom, gaan staan by hom en praat in sy oor – ek bid asseblief laat sy bloeddruk lig, laat dit net lig asseblief sodat sy organe kan begin werk.

Die geluide van die ICU gaan by my verby, niemand en niks om my maak saak nie al waarop ek konsentreer is dat my man se bloeddruk moet lig en dat hy moet urineer. Dan sien ek die urine in die buis…..nog nooit was ek so bly nie en roep dadelik die suster. Sy is glad nie so optimisties soos ek nie. Volgens haar is dit slegs urine wat in die buis was wat uitkom – hy het ‘n kateter ingehad.

Ek sal nie moed opgee nie EK SAL NIE ……… ek sal bly glo, bly hoop, bly vra, bly vertrou dat alles okay gaan wees. Dit moet net want hy is my lewe en my lewe lê op daardie bed onherkenbaar vir my, maar dit bly my lewe, my man, my liefde my ALLES…….

IMG-20151228-WA0035

 

 

 

My Stofpad Brief vir jou…..

Nog net een keer…..

Vandag vertel ek nie “jou storie” verder nie, vandag skryf ek vir jou ‘n brief…..’n brief om te sê hoe baie jy gemis word.

Gister was my eerste verjaardag sonder jou……het ek maar ‘n jaar gelede dit geweet dan sou ek jou op daardie dag ‘n bietjie langer vasgehou het ‘n bietjie langer by jou kantoor gebly het en weer vir jou gesê het ek is lief vir jou. Het ek maar geweet sou ek die dinge wat ek moes doen los en die heeldag saam met jou spandeer. Het ek maar geweet dan sou ek die fliek saam met jou gaan kyk het en nie gesê het ons kan dit later gaan kyk nie….het ek maar geweet.

Wanneer ek jou mis kyk ek na jou foto’s en luister jou musiek. Elke keer bring dit ‘n glimlag deur die hartseer. Jou musieksmaak was uniek, so glo ek.  Die een oomblik luister ek na trance musiek, dan hoor ek Jan Blom se Breyten se Brief en dan weer Pearl Jam….regte mengelmoeskardoes van musiek.

Wanneer ek ‘n BMW Adventure motorfiets sien mis my hart nie net een hartklop nie maar dit voel elke keer asof hy gaan stilstaan. Dan hoor ek jou in die pad afgery kom en onthou hoe ek bo uit die tvkamer vir jou die hek oopgemaak het. Smirnoff wat uit sy nate is omdat jy by die huis is. Jy wat voor die hek wag en vir my waai terwyl jy wag vir die hek om heeltemal oop te gaan. Hoe mis ek dit nie om jou op jou motorfiets te sien ry en om te hoor jy is by die huis nie. Elke keer was ek dankbaar dat jy veilig terug is by die huis.

Hoe mis ek dit nie om saam met jou by die tafel te sit en te luister hoe jy vertel wat alles gebeur het of wat jy gesien en ervaar het nie. Jy kon so opgewonde raak oor die natuur en die stofpaaie waarvoor jy so lief was. Jou vertellinge het my altyd laat voel asof ek saam met jou daar was. Jou bestelling vir ete het jy elke keer gegee voordat jy gery het. Dit was altyd so lekker om te sien hoe jy na ‘n trip die kos geniet en sê……jissie dankie Liefie nou het ek flippen lekker geeet…..as ek maar nog net een keer vir jou kon kosmaak. As ek maar nog net een keer vir jou kon souskluitjies maak. As ek maar net kon……

Dit was vir jou altyd so lekker om na ete op jou bank voor die tv te gaan lê, onder jou kombers en altyd sigaretjie in die hand. Dan sou jy sê bliksem dit is nou lekker en ‘n sug van tevredenheid gee. As ek maar nog net een keer saam met jou op die bank voor die tv kon lê……..

Ek mis jou my man meer as wat enige woord ooit sal kan beskryf. Daar is geen woord wat kan beskryf hoe baie jy gemis word nie. Op elke stofpad van die Karoo sien ek jou ry en in die Karoowind vind ek jou. Jou naam is vir altyd in my hart gegraveer en so sal dit bly.

As jy maar nog net een keer jou arms om my kon sit en styf teen jou bors vasdruk. Daar waar ek veilig gevoel het en geweet het ek is nie alleen nie, jy is altyd daar vir my. As jy maar nog net een keer vir my jou gunstelling boodskap kon stuur……”Weet jy wat? Ek is lief vir jou”. Nog net een keer…….

Daar waar jy nou is is jy veilig en gelukkig. Ek gun jou dit omdat ek lief is vir jou. Jou naam sal nooit vervaag op my lippe en jou glimlag nooit uitgedoof raak nie. Jy sal altyd onthou word……..altyd.

Liefde vir altyd ……… M

IMG-20151228-WA0026