Featured

Waar die Stofpad opsoek na my nuwe “normaal”begin.

Tot die dood ons skei my vrou…nie vandag nie Here asseblief.

Advertisements

Waar begin jy wanneer jou lewe tot stilstand geruk word? Wanneer jou teerpad in ‘n stofpad verander. Myne het by ‘n telefoonoproep na my man se selfoon begin 4uur die oggend. Iemand anders antwoord sy foon – sy vriend – ons was in ‘n ongeluk. Die aarde begin draai om my maar ek bly regop. Here asseblief net nie dit nie…..net nie dit nie Here. Ek sal dit nie oorleef nie Here asseblief Here. Wat het gebeur? Waar is hy? Is hy okay? Waar is julle? Ek gee hom nie kans om te praat nie. Vra te veel vrae.  Kan ek met hom praat? Ek kan nie hulle is besig met hom in die hospitaal….ek hoor die woorde arm..plate…kopbesering…weet nie hoe ernstig…..arm lyk sleg….uitgeval. Ek wil nie meer hoor nie asseblief Here ek wil nie ek kan nie. Dan hoor ek my man….tot die dood ons skei my vrou…..nie vandag nie Here asseblief nie vandag nie. Here wat gaan hy doen as hy sy arm moet verloor….hy gaan nie kan motorfiets ry nie Here…..hoe gaan hy dit hanteer. Hoe gaan ek dit hanteer?

Hierdie blog begin ek om my gevoelens, gedagtes en ervaringe na my man se motorongeluk neer te skryf. Dalk beteken dit vir iemand anders wat deur ‘n soortgelyke ervaring of situasie gaan iets.

Die naam van die blog dra ek aan hom op……motorfietsry was sy lewe. Dit was sy droom om sy eie motorfiets-toebehore/toerusting reeks met die naam “Where tar meets gravel”te begin. Dalk inspireer Stofpadkind iemand anders om hul droom uit te leef of te besef daar is hoop.

2014-10-26 19.45.56

Dit wat was sal nooit weer wees nie….

Jors 1

 

Wanneer die dood so skielik aan jou deur kom klop verloor jy soms heeltemal tyd en tred met wat om jou aan die gebeur is. Elke dag is net nog ‘n dag …… nog ‘n dag wat jy moet opstaan en die wêreld in die oë kyk. Jy wil nie maar jy weet jy moet, want die wêreld gaan staan nie stil soos jou wêreld gedoen het nie. Dit is een van die moeilikste dinge om mee saam te leef aan die begin. Jy wil dit uitskree dat almal tog net sal stilstaan want jou man is dood….weet hulle dit dan nie. Hoe kan almal aangaan met hul daaglikse lewe terwyl joune uitmekaar val. Alledaagse dinge irreteer jou tot in jou siel. Hoe kan mense oor sulke onbenullighede praat, stry en baklei.

Dit raak so erg dat daar tye is wat ek net nie ‘n wag voor my mond kon sit nie. Soos die man wat by die tuisnywerheid so geirreteerd raak met sy vrou wat nie kan besluit wat hy moet koop nie. Wanneer hy dan die telefoon dooddruk stap ek na hom toe en vra vir hom of hy weet hoe gelukkig hy eintlik nog is…..hy kyk verbaas na my en vra hoekom? Omdat jy nog ‘n vrou het vir wie jy iets by die tuisnywerheid kan gaan koop meneer, ek sal wat wil gee dat my man my bel en vra om iets vir hom te koop……(selfs die pakkie sigarette waarvoor ek menigmale spesiaal moes stop en wat my so irreteer het). Al wat die man kon uitkry na ‘n lang ruk is ……. dankie.

 

Met elke klein dingetjie wat gebeur dink jy hoe anders kon jou lewe nie gewees het as dit net nie gebeur het nie. Sommige dae voel dit asof jy nie meer omgee nie……oor niks nie, nie eers jouself nie want niks maak meer saak of sin nie.

Jy word vasgevang in ‘n groef en dit is asof jy bly vashaak in die verlede. Niks wat enige iemand vir jou sê wil jy hoor nie, al weet jy hulle bedoel dit ten goede. Jy wil net niks hoor nie. Dit is my seer en myne alleen. Niemand of niks kan dit beter maak nie. Jy wil ook nie met iemand gaan praat soos almal aanbeveel nie, want hoekom moet ek alles vir ‘n vreemdeling gaan vertel? Hoekom moet ek sit en derms uitreig by iemand wat nie regtig ‘n idee het hoe ek voel nie? Iemand wat nog nie in my skoene gestap het nie kan my nie raad gee nie en dit is asof ek ook nie na enige iemand wil luister nie…al weet ek dalk diep binne my hulle mag dalk net reg wees.

Dan op ‘n dag is daar iemand wat wel in jou voetspore geloop het, dalk nog dieper getrap het as jyself en jy word “geforseer”om te luister, want jy weet die persoon praat nie net nie die persoon verstaan want hy of sy was daar waar jy nou is. Jy besef dan daar is tog hoop want jy kan sien die seer het beter geraak. Ek voel vir die eerste keer iemand verstaan regtig hoe ek voel en wat ek deurmaak. Dinge waaroor ek getwyfel het in myself verstaan ek beter. Ek kan praat sonder om myself te verduidelik of om bevraagteken te word……iemand verstaan werklik.

Die mees hartseerste ding om mee vrede te maak is om te besef dat wat was nooit weer sal wees nie. Dit is vir altyd verby…..

Die liedjie hieronder is die ding wat my die heel diepste geraak het na Jors se ongeluk….ja dit is nogsteeds moeilik vir my om die woord dood te sê. Dit is hartseermooi en die harverkeurende waarheid…….

Die woorde het my diep geraak en my uitkyk verander……..dankie x

Na al die donker wolke is daar weer vir my lig. Ek besef die lewe gaan aan of mens dit wil weet of nie. Soos wat my hart geleidelik ligter raak sien ek ook my vriendinne en familie se vreugde raak…..hul vreugde omdat ek uiteindelik besef ek kan nie in die verlede bly vassteek nie.

Die seer glo ek sal nooit weggaan nie, maar dit raak ligter. Vir altyd sal dit deel wees van my lewe. Baie dae wanneer ek na jou foto’s kyk kan ek dit nogsteeds nie glo nie, dan voel dit asof jy net iewers is en weer gaan terugkom. Dit is dan nogsteeds ondenkbaar om te dink ons sal jou nooit weer sien nie.

Jy sal altyd deel van my wees, dit is hoe dit hoort. Dit is ons storie en sal altyd wees niks kan dit verander of wegneem nie……

 

Jors Stofpad 1

Wanneer jy groet op die Stofpad.

Tot ons weer ontmoet….

Om te groet is nooit maklik nie. Om vir altyd te groet is nog moeiliker.

Op 6 Augustus 2016 het ons jou vir altyd gegroet. Vir ons was dit die einde van jou pad hier saam met ons, vir jou die begin van jou ewige lewe. Ons was hartseer en verslae, die Engele het gejubel en feesgevier.

Hoe groet mens iemand wat vir so lank deel was van jou lewe? Hoe sê mens totsiens vir die lewe wat jy geken het. Dit wat was sal nooit weer wees nie. Dit is die moeilikste om te aanvaar en vrede mee te maak.

Jou kerkdiens was besonders. Die dominee het uit jou bybel gepreek waarin jyself aantekeninge gemaak het. Dit was asof jyself met ons gepraat het. Jy het geskryf  jou Geestelike Verjaardag is op 10 Julie. Wie van ons het werklik ‘n Geestelike Verjaardag. Al jou bekommernisse, vrese en foute het jy neergelê voor Hom.

Soos die dominee gesê het ons almal leef die “dash”tussen jou geboortedatum en sterftedatum. Dit is jou tyd hier op aarde. Hoe lank jou eie “dash”is sal ons nooit weet nie. Ook is dit nie belangrik nie. Om die “dash”reg te leef dit is wat belangrik is.

Ek het self die bedankings by die diens gedoen……nie omdat ek “sterk”is nie, maar omdat ek dit as ‘n manier gesien het om myself te laat besef dit is ‘n werklikheid.  Vir jou het ek die volgende gesê:

Aan my “Wild-at-Heart”man. Dankie vir die mens wat jy was. Dankie vir alles wat ek by jou geleer het. Om almal met respek en liefde te behandel was een. Dankie dat jy my gewys het hoe om te leef. Jy los my met die kosbaarste herinneringe ooit. Dankie vir 13jr van saamwees deur dik en dun.

31 Julie 2016 sal in my geheue gegraveer wees as die dag wat jou woorde “tot die dood ons skei my vrou” waar geword het.

Dit was te gou en my hart is stukkend en ek wil jou nie laat gaan nie, maar ek weet ek moet. Ek ken jou vandat ons 14 was. Jy was my eerste liefde en die liefde van my lewe. Vandag breek ‘n stuk van my hart maar ek stuur dit saam met jou. Vandag gaan daar van my menswees dood, die wat jy elke dag lewendig kon hou. Vandag verloor ek ‘n tyd van my lewe waaraan jy elke dag deel kon hê, waar ons soveel gehad het om vir mekaar te sê. Vandag stol ‘n traan op my wang as ‘n teken van ons tye saam en my geheue is gevlek met jou naam.  Ek sal jou gaan soek in die Karoo en op die grondpaaie sal ek jou vind. Vir altyd sal jy nou veilig op die highways ry. Lief jou vir jou altyd.

Tot ons weer ontmoet……..

 

 

365 Dae op die Stofpad

Niks hier op aarde is van belang of blywend nie…

602824_533631920052123_135693611_n

Ek het nie gedink ek gaan dit maak nie, maar ek het. Op die een of ander manier het ek 365 sonder jou oorleef. Dit was nie maklik nie, maar ek het dit gemaak en ek weet jy sou trots wees. Trots wees omdat ek deur al die hartseer en pyn nogsteeds staande kon bly, dit het ek by jou geleer.

31 Julie 2016 was die seerste, swaarste, hardste, ondenkbaarste dag van my lewe. Terwyl ek daar op die vloer in die hospitaal gesit en wag het het ek nie geweet wat om te dink en wat om te doen nie. Ek het geweet dinge lyk nie goed, maar met die dokters wat verby my gehardloop het het ek bly glo. Solank daar lewe is daar hoop.

Toe ewe skielik is daar nie meer lewe nie en saam met dit het my hoop verdwyn. My lewe is tot stilstand geruk. Wat het hierdie afgelope jaar my geleer?

Dat pyn allesoorheersend in jou lewe kan wees. Dat pyn, skok en hartseer jou verlam. Dit laat jou doelloos en sonder rede ronddwaal. Dit het my geleer mens kan sonder emosie binne jou, funksioneer…..soos ‘n outomaat.

Dit het my geleer om nie uit te stel nie, om nie te sê môre is nog ‘n dag nie. Dit het my geleer tyd is kosbaar. Dit het my geleer om almal om my te waardeer elke dag. Dit het my geleer niks hier op aarde is van belang of blywend nie…..absoluut niks nie. Die enigste ding van belang is die liefde in jou hart, want dit is al wat jy saam met jou neem. Die liefde wat jy in jou hart saamdra.

Dit het my geleer môre is nie ‘n gegewe nie. Dit het my geleer alles verander binne sekondes. Alles waarop jy hoop, waaroor jy droom, waarvoor jy bestaan verdwyn soos mis voor die son. Al jou drome verdwyn en maak plek vir al die gisters…..want vir nou is gister, eergister en die dag daarvoor die belangrikste dae want jy was nog daar. Gister en eergister kon ek met jou praat en jy het terug geantwoord, nou praat ek nogsteeds met jou, maar altyd sonder ‘n antwoord.

Dit het my geleer dat mense omgee, dat mense se lewens ook tot stilstand geruk word deur iets wat so skielik en sonder waarskuwing gebeur. Die verskil is net, mense staan net vir ‘n rukkie stil by die een wat uitmekaarval, dan gaan hul lewens weer aan – dit is hoe die lewe is. Dit het my geleer mense oordeel soms sonder om te dink. Mense leef so in die wêreld dat hul verby almal om hul se seer kyk. Dit het my geleer dat wat mense dink en sê nie saak maak nie. Vir die eerste keer in my lewe kan ek sê ek “worry nie wat mense sê nie”en dit bedoel. Dit het my geleer al wat saakmaak in die lewe is God. Net Hy kan vertroosting bring, net Hy kan jou optel en vashou wanneer jy nie meer kan nie. Sonder Hom is ons niks.

Dit het my geleer dat iets so tragies mense help om weer rigting in hul lewens te kry. Dit laat mense besef dat die paadjie waarop hulle is, is dalk nie die regte een nie. Dit laat groot mans soos seuntjies huil. Dit het my geleer die klein dingetjies in die lewe is die belangrikste dinge. Die saamwees elke aand om die kospotte en langs die etenstafel beteken baie meer as die nuwe TV Game of daardie nuwe rok. Dit het my geleer dat daar ‘n rede was hoekom jy my elke oggend totsiens gesoen het, want wanneer daar nie nog ‘n totsiens soen is nie, smag jy daarna.

Dit het my geleer dat mens meer geduld met almal om jou moet hê. Dit het my geleer die vuil skottelgoed en vol wasgoedmandjie is nie belangriker as die koffie saam met jou op die bank nie. Dit het my geleer die onopgemaakte bed is nie belangriker as ons geselsies in die badkamer voor die spieëls nie. Dit het my geleer die vuil kombuisblad nadat jy in die nag vir jou ‘n peanut en stroop broodjie gemaak het is baie beter as ‘n skoon kombuisblad elke oggend sonder jou.

Dit het my geleer dat alle verhoudings uit soet, suur en sout bestaan, maar dat die goed so goed moet wees dat dit die suur en sout heeltemal oorskadu. Dat ons hier is om God se Wil uit te leef en daarmee saam om mekaar gelukkig te maak. Dankie dat ons goed so goed was dat die res nie saak maak nie.

Dit het my geleer dat jy wel my hele lewe was en dat die lewe sonder jou sy kleur verloor het. Jy het my dag opgehelder en die glimlag op my gesig gesit met al jou sêgoed.

Ek weet nie hoeveel 365 dae nog oor is voor ek jou weer sal sien nie, maar ek weet dit sal die blyste dag van my lewe wees. Tot dan bly jy in my hart, bly jy in my gedagtes vir altyd.

As jy die kans kry om af te kyk na my hoop ek jy kan sien hoe baie ek jou mis, maar ook dat ek die lewe vir ons altwee leef.

Soos die dae verby gaan verander niks nie, ek mis jou en alles van jou nogsteeds. Sommige dae mis ek jou so baie dat ek nie weet hoe om deur die dag te kom nie, maar dan dink ek aan iets wat jy gedoen of gesê het en dit laat my smile deur die trane. Jy het my lewe verander en ek sal nooit ophou om jou te mis nie.

Liefde vir altyd M……

 

Wanneer die Stofpad donkerder word.

My lewe, my liefde my alles….

My man is oorgeplaas na ICU en ons wag dat die personeel bevestig ons kan deurgaan na die waakeenheid. Al waaraan ek kan dink is dat hy hospitale haat en nou is hy in ICU van alle plekke…..ek wil liewer nie weet wat hy gaan sê wanneer hy bykom nie………hy gaan mos bykom, sommer gou ook. Daar is nog baie wat hy moet, wil en kan doen.

Uiteindelik kom roep hulle ons. Ons stap in die lang donker gange af….eers dan besef ek dit is alreeds nag en nie meer middag of aand nie. Voor die deur moet ons eers ons hande ontsmet en slegs een persoon op ‘n keer mag ingaan en slegs familie. Ek ontsmet my hande en stap deur die deure in….alleen. Dit breek my hart om hom daar te sien lê met al die masjiene en pypies. Dit kan mos nie my man wees wat so lekker kan lag en altyd net die mooi in ander sien wat so daar lê nie…..dit KAN NIE.

Weereens besef ek dat ek sal moet sterk wees vir hom om hom hierdeur te help, want hy GAAN mos hierdeur kom. Ek staan langs sy bed en voel vir die eerste keer in my lewe regtig verlore. Verlore omdat ek nie weet hoe om die situasie te hanteer nie, want eintlik wil ek net weghardloop ek wil hom nie so sien nie. Nooit het ek gedink dit sal oor my pad kom nie. Weer buk ek by hom om by sy oor met hom te praat, die reuk van die ontsmettingsmiddel waarmee hul sy gesig gewas het sal vir altyd by my bly. Hy het so daarna uitgesien om terug by die huis te wees – eers heelwat later sou ek uitvind hy wou hê hul moes hom eers huistoe bring met die ambulans voordat hy hospitaal toe gaan. Geen mens weet hoeveel hartseer, skok en absolute verwoesting jou hart kan hanteer nie.

Die res van die familie moet ook seker kans kry om in te kom……in alle eerlikheid wil ek nie uitgaan nie want ek wil hom nie “alleen”daar los nie. Nadat almal ‘n beurt gehad het om in te gaan gaan sit ek weer by hom. Ek praat met hom hou sy hand en sy been vas sodat hy weet ek is daar die heeltyd. Hy raak rustiger. Die suster aan diens sê hulle gaan hom nou gemakliker maak en daarmee saam sy medikasie nagaan en omruil. Ek sê vir hulle ek het sy sak met klere en eie beddegoed in my kar, maar hulle sê ek moet dit eers hou DALK kan ons dit die volgende oggend gebruik. Hul vra dat ek asseblief eerder moet huistoe gaan …… nee-nee-NEEEE ek kan nie ek kan hom nie alleen daar los nie. Na ‘n lang gesoebat, preek en ‘n belofte dat hulle my DADELIK sal kontak as iets nie reg is nie loop ek uit en die ICU deure gaan toe agter my……..hoe vreem het dit nie gevoel nie. Daar staan ek weer alleen in die lang gang nog meer onseker en verward as ooit in my lewe.

Ek ry huistoe, maar kan nie sien waar ek ry nie en moet eers stop langs die pad om my emosies onder beheer te kry. Iemand ry agter my aan om seker te maak ek is okay. By die huis lyk die huis vir die eerste keer vir my groot, donker, leeg en onheilspellend…..ons veilige hawe verander in ‘n donker, onheilspellende kasarm.

Dan hoor ek Smirnoff…..ek het heeltemal van ons hond vergeet…eerste keer in sy 8jarige lewe wat dit gebeur. Kon dit nie glo nie, maar later sou ek uitvind skok en trauma laat mens vreemde dinge doen en ook nie doen nie.

Ek gee hom kos, stort, trek skoon klere aan en begin BID EN BID EN BID. Daar word gesê mens mag nie met God “bargain”nie, maar dit is mos nie wat ek doen nie. Ek smeek hom net om Jors se lewe te red, want ek weet dit is net Hy wat dit kan doen. Hoe lank ek daar langs ons bed op my kniee was weet ek nie. Alles, Hy kan alles vat van my solank Hy net asseblief Jors se lewe sal spaar . Enige iets sal ek doen niks sal vir my te veel gevra wees om te doen. Ek smeek, belowe, vra en redeneer met God.

Ek besluit om die hospitaal te bel, want slaap kan ek verseker nie. Dit is drie uur die oggend. Hallo Mevrou, ja ons was nou-net van plan om mevrou te skakel…..my hart voel asof hy gaan staan. Vandat mevrou weg is is hy baie onrustig sal mevrou asseblief maar hospitaal toe kom en dalk ook die res van die familie. Nee-nee-nee……NEEEEEEEE.

My oom en tannie kom haal my want ek sien nie kans om self te ry tot daar nie. By die hospitaal is dit weer hande ontsmet voor ek mag ingaan. Sjoe mevrou hy het ons laat rondhardloop. Hy wil nie saam met die masjien asemhaal nie en baklei daarteen. Hoekom is ek nie verbaas nie……dit klink presies soos hy. Sy bloeddruk is bitter laag en dit maak dat sy organe swaar kry. Ek gaan sit langs sy bed en vryf oor sy arm en been sodat hy kan voel ek is daar. Hy raak rustiger, maar sy “vitals” raak nie beter nie.

Hoe magteloos is mens as jy daar sit en sien hoe sy bloeddruk bly val, as jy vra is daar niks wat hulle vir hom kan gee nie. Dan vir die eerste keer in my lewe hardloop ek weg wanneer die alarms van die masjiene begin skree. Ek hardloop in die lang gang af tot by die trappe en daar gaan sit ek. Dit kan nie besig wees om te gebeur nie dit kan nie. Dit is nou reeds vroegoggend. Kent kom soek my en kom sit by my op die trappe met sy arms om my. Ek is veronderstel om sterk te wees maar ek is nie Here ek is eintlik so swak. Elke keer wat iemand om die draai kom wil ek verder weghardloop want ek wil nie hoor wat hulle sê nie ek WIL NIE.

Hulle kom roep ons en sê hy is gestabiliseer ons kan weer ingaan. Nou mag ons twee by hom wees. Ek sit die heeltyd by hom die res maak beurt om in te kom. Ons dominee is daar en ek gaan uit om met hom te gesels. Die dokter kom praat met ons. Wat hy sê WIL EK NIE HOOR NIE. Ek kyk hom in die oë en sê dokter daar GAAN vandag ‘n wonderwerk in hierdie hospitaal gebeur ek gee nie om wat jy sê nie. Die dokter bly net stil sê sterkte vir almal, draai om en stap weg.

Ek bly langs sy bed, elke keer wat die alarms afgaan loop ek uit en af met die gang. My vriendin laat weet sy het iemand spesiaal gekry om vir hom te kom bid, hy kom van Mosselbaai af. Sy bloeddruk bly val die suster sê hy moet urineer sodat sy niere kan werk. Ek vra vir my vriendin wanneer kom die persoon wat kom bid want hy het dit nou NODIG. Toe ek omdraai staan die man in die deur.

Hy kom in. Bid vir hom, salf hom en ons bid saam. Ek glo en vertrou nou gaan alles omkeer, nou gaan die wonderwerk begin gebeur. Gaan sit langs hom – die heeltyd praat ek met hom, gaan staan by hom en praat in sy oor – ek bid asseblief laat sy bloeddruk lig, laat dit net lig asseblief sodat sy organe kan begin werk.

Die geluide van die ICU gaan by my verby, niemand en niks om my maak saak nie al waarop ek konsentreer is dat my man se bloeddruk moet lig en dat hy moet urineer. Dan sien ek die urine in die buis…..nog nooit was ek so bly nie en roep dadelik die suster. Sy is glad nie so optimisties soos ek nie. Volgens haar is dit slegs urine wat in die buis was wat uitkom – hy het ‘n kateter ingehad.

Ek sal nie moed opgee nie EK SAL NIE ……… ek sal bly glo, bly hoop, bly vra, bly vertrou dat alles okay gaan wees. Dit moet net want hy is my lewe en my lewe lê op daardie bed onherkenbaar vir my, maar dit bly my lewe, my man, my liefde my ALLES…….

IMG-20151228-WA0035

 

 

 

My Stofpad Brief vir jou…..

Nog net een keer…..

Vandag vertel ek nie “jou storie” verder nie, vandag skryf ek vir jou ‘n brief…..’n brief om te sê hoe baie jy gemis word.

Gister was my eerste verjaardag sonder jou……het ek maar ‘n jaar gelede dit geweet dan sou ek jou op daardie dag ‘n bietjie langer vasgehou het ‘n bietjie langer by jou kantoor gebly het en weer vir jou gesê het ek is lief vir jou. Het ek maar geweet sou ek die dinge wat ek moes doen los en die heeldag saam met jou spandeer. Het ek maar geweet dan sou ek die fliek saam met jou gaan kyk het en nie gesê het ons kan dit later gaan kyk nie….het ek maar geweet.

Wanneer ek jou mis kyk ek na jou foto’s en luister jou musiek. Elke keer bring dit ‘n glimlag deur die hartseer. Jou musieksmaak was uniek, so glo ek.  Die een oomblik luister ek na trance musiek, dan hoor ek Jan Blom se Breyten se Brief en dan weer Pearl Jam….regte mengelmoeskardoes van musiek.

Wanneer ek ‘n BMW Adventure motorfiets sien mis my hart nie net een hartklop nie maar dit voel elke keer asof hy gaan stilstaan. Dan hoor ek jou in die pad afgery kom en onthou hoe ek bo uit die tvkamer vir jou die hek oopgemaak het. Smirnoff wat uit sy nate is omdat jy by die huis is. Jy wat voor die hek wag en vir my waai terwyl jy wag vir die hek om heeltemal oop te gaan. Hoe mis ek dit nie om jou op jou motorfiets te sien ry en om te hoor jy is by die huis nie. Elke keer was ek dankbaar dat jy veilig terug is by die huis.

Hoe mis ek dit nie om saam met jou by die tafel te sit en te luister hoe jy vertel wat alles gebeur het of wat jy gesien en ervaar het nie. Jy kon so opgewonde raak oor die natuur en die stofpaaie waarvoor jy so lief was. Jou vertellinge het my altyd laat voel asof ek saam met jou daar was. Jou bestelling vir ete het jy elke keer gegee voordat jy gery het. Dit was altyd so lekker om te sien hoe jy na ‘n trip die kos geniet en sê……jissie dankie Liefie nou het ek flippen lekker geeet…..as ek maar nog net een keer vir jou kon kosmaak. As ek maar nog net een keer vir jou kon souskluitjies maak. As ek maar net kon……

Dit was vir jou altyd so lekker om na ete op jou bank voor die tv te gaan lê, onder jou kombers en altyd sigaretjie in die hand. Dan sou jy sê bliksem dit is nou lekker en ‘n sug van tevredenheid gee. As ek maar nog net een keer saam met jou op die bank voor die tv kon lê……..

Ek mis jou my man meer as wat enige woord ooit sal kan beskryf. Daar is geen woord wat kan beskryf hoe baie jy gemis word nie. Op elke stofpad van die Karoo sien ek jou ry en in die Karoowind vind ek jou. Jou naam is vir altyd in my hart gegraveer en so sal dit bly.

As jy maar nog net een keer jou arms om my kon sit en styf teen jou bors vasdruk. Daar waar ek veilig gevoel het en geweet het ek is nie alleen nie, jy is altyd daar vir my. As jy maar nog net een keer vir my jou gunstelling boodskap kon stuur……”Weet jy wat? Ek is lief vir jou”. Nog net een keer…….

Daar waar jy nou is is jy veilig en gelukkig. Ek gun jou dit omdat ek lief is vir jou. Jou naam sal nooit vervaag op my lippe en jou glimlag nooit uitgedoof raak nie. Jy sal altyd onthou word……..altyd.

Liefde vir altyd ……… M

IMG-20151228-WA0026

 

Wanneer die stofpad se stof al digter om jou raak…

Hou die asemhalingsmasjien hom aan die lewe…..?

Ons wag nogsteeds vir die dokter….hoe lank nog. Intussen word my man geneem vir scans en plate. Dan stap daar ‘n onbekende man by ons in in die wagkamer. Hy stel hom voor….ek hoor nie alles nie net die woord pastoraal steek vas in my kop, Hy begin praat met ons en ek wil vir hom sê hy is nou sekerlik by die verkeerde familie want dit wat oor sy lippe kom kan verseker nie na my man verwys. Ek sluit my af van wat hy sê want dit is nie op ons van toepassing nie…….dit is mos so Here? Hy is by die verkeerde familie……

Dan uiteindelik kom die dokters. Ek weet nie of ek moet bly wees nie want ek weet nie of ek wil hoor wat hulle gaan sê nie. Die ortopeut is ‘n saggeaarde jong dokter wat verduidelik hoe ernstig sy arm regtig seergekry het. Hy moet dringend ‘n operasie (dit sou die eerste van vele wees) ondergaan maar sy “vitals”laat dit nie nou toe nie. Hul gaan hom kans gee tot die volgende oggend en dan kyk. Die chirurg is egter ‘n perd van ‘n ander kleur. Ook jonk en nie onvriendelik nie, maar op die man af. Kan nie glo die twee dokters praat van dieselfde mens nie. Die chirurg bevestig hy het seerder gekry as wat vermoed was. Daar is inwendige bloeding wat hul nie kan vasstel waar dit vandaan kom nie. Niks wys op die scans dat hy inwendig seer gekry het nie……..hulle vermoed dalk ‘n maagseer wat bloei of “ulcers”wat vorm nadat die liggaam ‘n geweldige skok beleef het. Sy bloeddruk is baie laag en hy het baie bloed verloor. Sy kopbesering wys dat daar nie breinskade is nie, maar as gevolg van die suurstof tekort na die hartstilstand is hy nie by sy bewussyn nie. Hy is nie in ‘n koma nie, maar die simptome is gelykstaande daaraan. Die volgende 48uur is uiters belangrik…..sy toestand is kritiek.

Die kamer draai om my maar ek bly luister want ek wil alles weet sodat ek weet hoe ek hom kan help. Hy word nou oorgeplaas na ICU maar ek kan na hom toe gaan tot hul hom kom haal. Sy seun Kent sê “Do not worry, my old man is strong and he will pull through as he always does”. Ek is bang om na hom toe te gaan……sê nou die masjien maak daardie geluid waarvoor ek so bang is en nie wil hoor nie. Ek stap alleen af na sy bed want ek wil nie iemand saam met my hê nie. My hart voel of dit by my keel uitspring toe ek om die gordyn kyk na waar hy op die bed lê……ek raak histeries want ek sien die lugpyp in sy mond. Hulle moet dadelik die dokter roep……..dadelik. Hy kom aangehardloop…….dr hou die asemhalingsmasjien hom aan die lewe? Ek skree half histeries op hom. Ons het mekaar belowe as ons ooit eendag in so ‘n situasie sou beland waar ‘n masjien ons aan die lewe hou ons die masjiene sou laat afsit. Here moet ASSEBLIEF nie dit aan my doen nie…….ek weet nie of ek my belofte aan hom sal kan nakom nie. Hoe laat sit ek die masjiene van die man wat my hart in sy hande hou af…..HOE HERE???

Die dokter bevestig die masjien hou hom nie aan die lewe nie hy haal self asem dit is net om hom te help om dieper asem te haal…….. DANKIE HERE. Trane loop oor my wange ….ek besef toe eers ek huil. Hou dadelik op sê ek vir myself……hy mag nie ontstel word nie en hy mag nie aanvoel hoe ontsteld ek is nie. Nou moet ek sterk wees vir hom. Hy het my geleer dat wanneer dinge om my te veel raak moet ek die Onse Vader bid. Ek stap na hom……my hart pyn om hom so gebroke te sien lê. My groot sterk man. Ek hou sy hand vas en buk af tot by sy oor sê vir hom ek is by hom alles gaan okay wees. Ons gaan saam deur dit kom. Ek bid vir hom die Onse Vader oor en oor en oor en verseker hom alles gaan okay wees hy moet asseblief net sterk wees.

Die geluide van Ongevalle is in my geheue vasgevang vir altyd. Te bang iets gebeur terwyl ek alleen by hom sit loop ek heen en weer tussen sy bed en die wagkamer. Die familie moet ook ‘n kans kry om hom te sien. Ek gaan staan by hom …… altyd aan sy regterkant aangesien sy linkerkant al die beserings opgedoen het…..met sy koue hand in myne die heeltyd. Eintlik sou hy lag as hy dit moet lees want sy hand het my hand heeltemal verdwerg as hy sy hand oor myne gesit het. Eintlik het ek altwee my hande gebruik om syne vas te hou sodat hy kon voel ek is by hom en hy is nie alleen nie. Vir die eerste keer in 33jaar was my hande warmer as syne.

Die heeltyd bid ek, smeek ek, pleit ek by God om in te gryp om sy lewe te spaar. Om hom so te sien laat my hart keer op keer in duisend stukke breek.

Hy mag nie sonder die dokters na ICU geskuif word nie….hulle moet by wees. Na wat soos ‘n ewigheid voel…..ek het heeltemal tred met tyd verloor en het geen idee hoe laat dit is nie……….kom daar ‘n hele span om hom te verskuif na ICU. Ons moet asseblief daar bly tot hul hom klaar geskuif het, hul sal ons kom roep wanneer ons na hom kan gaan in ICU…………………….weer wag ons.

20140301_124639 (1)